GEMSBOK-KENHARDT: Katriena Olifant (51 jr) is ‘n eerste keer skrywer van Kenhardt.
Olifant is ‘n oud-onderwyser en woon tans in in Upington. Met haar debuut deel sy haar unieke stem uit die Kalahari - ‘n storie geskryf met stof op die skoene en hoop in die hart, vir elkeen wat opsoek is na geluk. “Die Pad na Geluk” is ‘n inspirerende reis oor hoop, geloof en klein oomblikke wat die lewe die moeite werd maak. In die hart van Stellenbosch dra Ruth meer as net ‘n denim hadtas - sy dra hoop, herinneringe en die stil moed om weer van voor af te begin. Wanneer haar lewe onverwags uitmekaar val en die toekoms onseker voel, stap Ruth tussen die wingerde en berge, op soek na betekenis, na tuiste, na geluk. Hierdie aangrypende verhaal volg haar reis deur verlies, gemeenskap en die klein oomblikke wat haar uiteindelik na vreugde lei - ‘n verhaal oor veerkrag, vriendskap en die skoonheid met ‘n nuwe begin. Ruth het in Stellenbosch studeer.
Olifant het jare lank in Pretoria skool gehou. “Die kryt in my hand, die kinders se stemme in my klas - dit was my wêreld.” Sy noem dat sy nog alles met die hand in haar notaboekie skryf, want haar gehoor is swak en haar pen het haar stem geword. Weens haar gehoor- en spraakprobleem kon sy nie meer verder onderwys gee nie en die klasdeur is toegemaak.
Sy skryf: “En toe het die stilte gekom. Nie die mooi stilte nie. Die stilte waar jy voel jou eie stem raak weg. Dis die rede hoekom ek skryf. “Dit voel asof my stem nie gehoor kan word nie, omdat ek dit met my eie ore nie kan hoor nie.Wanneer ek praat, hoor ek myself anders as wat ander mense my hoor. “Party keer moet ek hard praat. Dan sê mense ek skree. Party keer praat ek te sag. Party keer verstaan mense my nie die eerste keer nie,en dan skaam ek my en bly liewer stil. “Maar wanneer ek skryf - dan hoef ek nie te hoor nie. Dan hoef ek nie te praat nie.My pen hoor my. My papier verstaan my die eerste keer. “In my notaboekie is my stem helder. In my boek, “Die pad na geluk,” kan ek sê wat ek jare lank in my hart hou, sonder om te “worrie” of my ore dit reg hoor. “Ek skryf nie omdat ek nie kan praat nie. Ek skryf omdat skryf die plek is waar my stem uiteindelik reg gehoor word.”
** Die Pad Na Geluk beskikbaar in Afrikaans en Engels. Prys R250. Katriena kan gekontak word by 061 402 8951.