GEMSBOK-UPINGTON: Ons ken dr. Johan van der Merwe as die geliefde tandarts in Upington.

Wat min mense weet, is dat hy saans, wanneer die laaste pasiënt huis toe is, 'n bronsbeeldhouer word. Twee wêrelde wat op die oog af ver uit mekaar lyk, maar in sy hande, dieselfde storie vertel: presisie, anatomie en menslikheid. Johan se belangstelling in beeldhouwerk het begin toe hy sy swaer, Chris Röhm, 'n bekende bronsbeeldhouer, se uitstalling besoek het. Hy het hom oor alles uitgevra en lank na sy beelde gekyk. Hy het daaroor opgelees en gedink dat hy dit self sou wou probeer.

Johan het geen kunsklasse gehad nie, nie op skool nie en het nie geleer hoe om dit te doen nie. Hy het net begin speel met klei en so die aardvark gevorm - sy eerste beeld. Dat hy 'n tandarts is, het hom definitief gehelp. Hy het geleer hoe om 'n tand na te boots, hoe spier-aksie werk en hoe fyn detail 'n verskil maak. Hy het selfs van sy tandheelkundige handinstrumente effens aangepas en daarmee begin werk. In Maart verlede jaar (2025) het hy klei bestel en aan sy eerste beeld begin werk. Teen Junie was sy eerste beeld, 'n aardvark, klaar. Toe het die gogga hom behoorlik gebyt. In net 19 maande het hy al 11 beelde voltooi. Die laaste beeld, 'n renoster, is nou by die gietery.

Sy proses is deeglik. Hy besluit eers watter dier hy wil maak en kry soveel as moontlik anatomiese inligting. Dan bou hy eers 'n metaalraamwerk, bou klei daarom en werk ure en ure totdat hy tevrede is. Sy styl is wildlewe en die meeste diere wat hy uitbeeld kom ook in die Noord-Kaap voor. Daarna stuur hy die kleibeeld met 'n koerier na Hazyview in die Laeveld waar die gietery is. Die gietery maak dan 'n gietvorm waarna die beeld in brons gegiet word. Dit was 'n groot leerproses. Met sy eerste beeld het hy seker 15 keer van voor af begin.“Die skep van 'n beeld is 'n lekker gevoel. Toe ek my eerste beeld sien, was ek so trots en al die ure se werk was vergete,” vertel Johan. Na die aardvark het hy 'n luiperd met welpie gemaak, na 'n besoek aan die Kgalagadi, 'n wyfie- leeu, drie kameelperde bymekaar, 'n gemsbok en 'n ietermagog. Die beeld wat vir hom die lekkerste was om te maak, was 'n meerkat en daarna die Klaasneusmuis.

Op die vraag waar sy inspirasie vandaan kom, vertel Johan dat hy dit in die natuur kry. “Dis meestal na 'n uitstappie in die natuur. Ons as gesin gaan gereeld uit in die natuur.” Hy is tans besig met 'n renoster wat hy gaan inskryf vir die “Wildlife Artist”-kompetisie. Die renoster is nog in proses en is reeds weggestuur om gegiet te word. Verlede jaar het hy vir die eerste keer ingeskryf en die prys as beste nuweling gewen met sy aardvark. Hy het spesifiek die renoster gemaak omdat dit vanjaar se tema is by die kompetisie.

Dit is die 5de “Africa Wildlife Artist of the Year”-kompetisie en inskrywings is nou oop vir natuurlewekunstenaars van regoor die wêreld, met 'n eerste prys van N$50 000 plus 'n solo-uitstalling en 'n internasionale beoordelaarspaneel. Kunstenaars kry so die geleentheid om deur hul kuns iets terug te gee aan die natuurlewe wat hulle inspireer. Vir 2027 beteken dit Namibië se renosters, met die “Rhino Trust Namibia” as die begunstigde.

Wanneer werk 'n besige tandarts nou aan sy kuns? Johan sê wanneer al sy huismense slaap, maak hy vir hom 'n koppie rooibostee, sit mooi musiek aan en werk in sy ateljee. Hy raak so in vervoering dat hy vir hom 'n wekker stel wanneer dit slaaptyd is. Naweke is vir hom die lekkerste, wanneer sy huismense saam met hom kan wees terwyl hy werk. Sy kinders, Phillip (9) en Amelie (5), speel ook met die klei en maak hul eie diertjies.

Sy vrou, Zanmeri, deel in sy passie, ondersteun hom en is net so opgewonde saam met hom wanneer 'n nuwe beeld gemaak word. Hy sê Zanmeri, is die fondasie waar kreatiewe denke gemaklik vandaan kom, deur haar ondersteuning en sagte eerlike opinie. “My begeerte vir my beeldhouwerk is om die natuur te bewaar en dat ek so meer tyd met my gesin in die natuur kan deurbring,” sê Johan. So leer hy ook sy kinders om, wanneer hulle 'n dier sien, byvoorbeeld die slange wat sy seuntjie Phillip graag maak, fyner na die natuur te kyk, meer aandagtig.

Van sy eerste beeld tot nou het hy baie geleer om sy tegniek te verfyn. “Want as jy van klei na brons oorskakel, moet jou lyne fyner wees, die brons wys fyner lyne,” sê Johan. “Die patinering lig baie meer detail uit. Patinering is die chemikalieë wat die verskillende kleure in die brons uitbring.”

Johan het ook al van sy beelde verkoop in galerye in Swakopmund en Hoedspruit. Die beeldhouwerk is 'n goeie afwisseling vir tandheelkunde, dis 'n ander denkproses en hy skep dan op 'n ander manier. Johan sê hy sal nooit tandheelkunde los nie, hy geniet dit verskriklik baie. Kuns is goeie afleiding en ontspanning.