‘n Nasionale oefengroep versamel uit bykans elke uithoek van die rugbywêreld is byeen geroep toe die Namibië Rugby-unie (NRU) oor die naweek sy uitgesoekte talent bekend gemaak het wat vir die 2025 internasionale seisoen sal voorberei.


‘n Totaal van 28 voorspelers en 23 agterspelers se name is aangekondig om vir die nasionale opset se drie wedstryde in Juniemaand voor te berei, ter opwarming vir die nasionale span se allerbelangrike Rugby Afrika-beker- en kwalifiserende Wêreldbekertoernooi in Uganda gedurende Julie. Die NRU se direkteur van rugby, Jacques Burger, het by navraag aan Sport Wrap agtergrond gebied oor die algemene denkrigting en die balans wat getref moet word tussen professionele spelers se betrekking en vooruitsigte met hul werkgewers, teenoor die belangrikheid vir Namibië om sy beste voet voor te sit.


Burger sê vandat hy in November aangestel is, was hy deurentyd in kontak met vele van die spelers wat as kandidate vir die Wêreldbeker-veldtog bestempel word. “Vir ons kwalifisering vir die Wêreldbeker lyk vanjaar se uitdaging soos een van ons moeilikstes nóg en daarom is dit deurslaggewend dat ons ons beste moontlike spelersgroep saamstel en die nodige tyd bestee om die ‘big guns’ as ‘n eenheid saam te snoer. “Vir sommige spelers is dit tans om verskeie redes ‘n moeilike tydstip op persoonlike vlak. Maar ons is positief dat ons relatief een van ons langste periodes saam kan bymekaar sit om die eenheid te kweek wat ‘n belangrike faktor in ons sukses sal wees. In die geheel is dit ‘n baie talentvolle groep.” Volgens hom is die eerste oefenkamp vir 2 Junie bespreek. Van die oorsese spelers wie se spanne in kompetisie nog in uitkloprondtes betrokke is, sal dan aansluit na gelang van wanneer hul seisoene ten einde loop.


Sonder Uanivi of Stevens - Waarskynlik twee van die mees hoëprofiel weglatings uit die groep is die 34-jarige slot Tjiuee Uanivi en die skrumskakel Damian Stevens (30), wat beide reeds die ondervinding van drie Wêreldbekers op hul kerfstok het. Volgens Uanivi se bladsy op die statistiek-webblad ItsRugby het hy in die huidige seisoen (30 Aug 2024 tot mees onlangs 8 Mei) reeds 20 wedstryde vir sy Franse klub Montauban gespeel, waarvan 15 in die beginspan was. In ‘n uiters kompeterende liga het hy dus ‘n redelike werklading behartig en het Burger-hulle versoek dat hy om persoonlike redes nie vir die komende veldtog oorweeg kan word nie.


Burger het verduidelik dat Stevens (New Orleans Gold) onlangs met ‘n Amerikaanse burger getroud is en gevolglik in die proses is om vir ‘n “green card” te kwalifiseer, waarvoor die tyd wat hy onafgebroke in die VSA deurbring een van die faktore is. Die haker Torsten van Jaarsveld (Bayonne, Frankryk) het volgens Itsrugby sy laaste wedstryd in Januarie vanjaar gespeel. Burger sê hulle is deurlopend in kontak oor sy vordering met die herstel van ‘n besering, met Van Jaarsveld (37) se professionaliteit en werkvermoë wat nog altyd bo verdenking was en sy ondervinding van drie Wêreldbekers wat vir die ontluikende geslag van groot waarde kan wees.


Losskakel André van der Berg (USA Limoges) het in sy eerste seisoen in Frankryk twee keer harsingskudding opgedoen en volgens Burger word sy gesondheid ook deurlopend gemonitor.


Afwesige vaskopstutte - Burger sê die uitmuntende vaskopstut Patrick Schickerling het aan hom verduidelik dat hy in sy eerste seisoen by sy nuwe klub en onder ‘n nuwe afrigterspan graag ruimte wil hê om homself te vestig. Glasgow Warriors is die verdedigende kampioen in die Verenigde Rugbykampioenskap en die gebore Walvisbaaier het sover reeds tien wedstryde in hul huidige veldtog gespeel. “Ons verstaan dat Patrick nie in die hitte van hul seisoen daar sal wil weggaan nie en dat hy sy voet in die deur wil hou. Ons verstaan en respekteer hul professionele omgewing.” In die geval van Herman Coetzee – gekontrakteer by die Franse spogklub Racing 92 – het Burger verduidelik dat die 21-jarige vaskopstut een van diegene is wat volgens die bestaande regulasies ‘n vasgestelde periode in Frankryk vir visumkwalifikasies moet deurbring. “Nasionale unies plaas ‘n beperking op die getal buitelanders wat gekontrakteer mag word en met kwalifisering vir sulke visums word sulke spelers as ‘binnelanders’ getel.” In hul afwesigheid sal Aranos Coetzee (37) van die Cheetahs verreweg die mees senior voorryman wees, wat ook drie Wêreldbekers sedert 2015 agter die blad het.


Die genooide NRU oefengroep: Loskopstutte: Haitembu Shikufa (Luiperds); Jason Benade (Unam); Otja Auala (Unam / Rhino rugby-akademie in Kaapstad); Sydney Halupe (Wits-universiteit). Hakers: Louis van der Westhuizen (Vrystaat-Cheetahs); Torsten van Jaarsveld (Bayonne); Armand Combrinck (Maties); Edward Drotsky (FNB Wanderers). Vaskopstutte: Aranos Coetzee (Vrystaat-Cheetahs), Liam Compion (FNB Wanderers); Gerhard Opperman (FNB Western Suburbs). Slotte en losvoorspelers: Adriaan Ludick (CSM Baia Mare, Roemenië), Ruan Ludick (FNB Wanderers), Johan Luttig (FNB Grootfontein), Oliver Kurz (Rissho Rugby, Japan), Riaan Grové (Stade Aurillac, Frankryk), Tiaan de Klerk (Pumas), Wian Conradie (New England Free Jacks, VSA), Richard Hardwick (Grenoble, Frankryk), Prince !Gaoseb (CSA Steaua Bucuresti, Roemenië), Max Katjijeko (CSA Steaua Bucuresti, Roemenië); Johan Retief (Krasny Yar, Rusland); Peter Diergaardt (Rugby Torino, Italië); Adriaan Booysen, Kian Beyers, Joe Losper, Sheron Rossouw (almal FNB Wanderers); Cameron Langenhoven (FNB Kudus). Skrumskakels: Jacques Theron (FNB Wanderers); Andrew (AJ) Kearns (FNB Unam); Helarius Kisting (CS Dinamo (Roemenië); Oela Blaauw (Universiteit Johannesburg; ook heelagter). Losskakels: Tiaan Swanepoel (Vrystaat-Cheetahs); André van der Berg (USA Limoges, Frankryk); Cliven Loubser (Anthem RC, VSA); Denzo Bruwer (FNB Wanderers; ook heelagter). Senters, vleuels en heelagters: Le Roux Malan (New England Free Jacks, VSA); Danco Burger, Natie Janse van Rensburg, Danie van der Merwe, Owen Hawanga, Jurgen Meyer (FNB Wanderers); Alcino Izaacs, Quirione Majiedt (beide FNB Unam); Manfred Garoeb (FNB Rehoboth); Freddie Dreyer (Shimlas, Bloemfontein); Van der Merwe Tromp (Pukke); Godwin Silvanus (CSA Steaua Bucuresti); Gerswin Mouton (Grenoble, Frankryk); Jay-Cee Nel (Pumas); Divan Rossouw (Seattle Seawolves, VSA).

Facebook