GEMSBOK-UPINGTON: Die laaste lid van die legendariese Le Riche familie wat die Kgalagadi Oorgrenspark gevestig het en vir die eerste 64 jaar van die Park se bestaan beheer en ontwikkel het, is op Saterdag 8 Augustus 2026 in die ouderdom van 86 jaar oorlede.
Elias le Riche was die vierde lid van die familie wat as Parkhoof gedien het. Hy is op 8 Mei 1940 in die Kalahari gebore as die seun van Joep en Cecile le Riche. Die Park is op 31 Julie 1931 geproklameer en Johannes le Riche is deur die Nasionale Parkeraad aangestel as veldwagter en parkhoof. In 1934 is hy aan malaria oorlede. Sy broer Joep het hom opgevolg en het vir 36 jaar in daardie hoedanigheid gedien. Joep se twee seuns, Stoffel en Elias, het later albei by hulle pa aangesluit as afdelingsveldwagters. Stoffel het sedert die vyftigerjare die Mata-Mata gebied bedien.
Elias het eers ’n BSc graad aan die Universiteit van Pretoria behaal en in 1963 ook by die Nasionale Parkeraad aangesluit as veldwagter. Sy pa Joep het Elias na die noorde van die Park gestuur, na die Nossobrivier se omgewing met die opdrag om ’n kamp daar te vestig. Hy het die Nossobkamp van niks af begin. Een jaar later is hy met Doempie (Antoinette) getroud. Hulle het die kamp vir die volgende 16 jaar bestuur. Die kamp is vandag een van die mees gewilde kampe in al Sanparke se kampe.
Stoffel het die voordeel gehad van boorgate wat reeds in aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog in die loop van die Auobrivier geboor is. Elias moes al die boorgate in die Nossobrivier laat sink en met windpompe toerus en instandhou. Met sy wetenskaplike agtergrond, het Elias ’n nuwe dimensie na die bestuur van die Park gebring. Met sy hulp het professor Fritz Eloff verskeie jarelange navorsingsprojekte in die Park geloods.
Elias het die waarde van wildtellings ingesien en het ’n vlieglisensie bekom spesifiek vir daardie doel. Hy het meer as 5000 vliegure oor die Park gevlieg. Hy was veral bekend vir sy uitgebreide kennis van die Kalahari en sy unieke sin van rigting in daardie onherbergsame wildernis. Tesame het die twee broers stropery in die Park uitgeroei en die infrastruktuur in die Park ontwikkel.
Elias het altyd geweet dat kameelperde voorheen in die Park voorgekom het. Hy het hom daarvoor beywer om kameelperde in die Park te hervestig. Onder sy leiding het dit in 1993 gebeur. Vandag is daar ’n groot getal kameelperde in die Park, ten spyte van die teenwoordigheid van meer as ’n honderd leeus.
Rondloper leeus wat die Park verlaat het, was ’n groot uitdaging. Elias was een van die pioniers op die gebied van die verdowing van leeus met pylgewere. Hy was baie trots daarop dat hy dosyne leeus wat weggeloop het, gevang het en veilig na die Park kon terugbring, altyd sonder enige beserings aan sy personeel.
In 1970 het Joep afgetree en het Stoffel sy pa as Parkhoof opgevolg. Toe Stoffel in 1980 skielik aan ’n hartaanval oorlede is het Elias hom opgevolg. Elias het in 1995 afgetree en homself op sy plaas Inversnaid digby Askham gevestig. Later jare het hy en Doempie in Upington gewoon. Doempie is op 2 November 2023 oorlede. Elias word oorleef deur twee seuns, Kabols en Flip en twee dogters, Susan en Cecile-Mari, 11 kleinkinders en vier agter-kleinkinders. Elias le Riche se lewensverhaal word vertel in die boek, Die Leeuvanger van Nossob, Elias le Riche, deur die skrywer Koos Marais.
Jy kan elke Vrydag jou gratis Gemsbok op WhatsApp kry! Volg die skakel - https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29