GEMSBOK-GAMSBERG: Angela Lindeque van die Gamsberg Myn is nie jou gewone mynwerker nie. Hierdie vrou het uitgestyg in haar beroep.
Sy is slegs een van drie vroue in Suid-Afrika wat haar kursus in mynredding voltooi het. In Junie vanjaar het Vendanta Zinc International haar ook as hul ster presteerder vir 2026 genomineer. Angela is ‘n “blasting assistant” by Gamsberg Myn, in die hartjie van Namakwaland.
Sy is nou ‘n “mine rescue responder” en haar volgende jaar gaan sy inskryf om te kwalifiseer as ‘n “blasting” ingenieur. Women in Mining South Africa (WIMSA) is trots op Angela Lindeque en vier saam met haar hierdie merkwaardige prestasie om die Mynreddingsdienste-assessering suksesvol te voltooi en te slaag.
In hul nuusbrief skryf WIMSA: “Mynreddingsoperasies vereis die hoogste vlakke van fisiese uithouvermoë, geestelike taaiheid, dissipline en spanwerk. Deur hierdie uitdagende assessering te oorwin, het Angela nie net ‘n onwrikbare toewyding aan gesondheid en veiligheid in die werkplek getoon nie, maar sy het ook geskiedenis gemaak as een van slegs drie vroue wat hierdie prestasie suksesvol behaal het.
“As ‘n ware leier wat deur voorbeeld lei, breek Angela hindernisse af en herdefinieer wat vir vroue in die bedryf moontlik is. Haar toewyding en passie vir uitnemendheid dien as ‘n kragtige herinnering aan die impak wat vroue steeds op die Suid-Afrikaanse myn- bousektor maak.”
In die myn-industrie was Angela voorheen vir vyf jaar by Petra Diamonds en in 2024 het sy by Vendanta Zinc International begin werk. Sy het verlede jaar by die mynreddingspan aangesluit. Gedurende September gaan sy ook ‘n kursus in “ropes rescue” voltooi, wat ook merkwaardig vir “Vroue in die mynbedryf” sal wees.
Kry elke Vrydag die skakel na jou gratis Gemsbok op WhatsApp! Volg die skakel https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29