In ’n land waar duisende kinders steeds kaalvoet skool toe loop oor rowwe terrein, bied ’n plaaslike inisiatief waardigheid aan dié leerlinge – een paar skoene op ’n slag.


Sedert die bekendstelling van die Never Walk Alone-projek in 2011 het die inisiatief ’n simbool van hoop vir leerlinge geword. Wat as ’n beskeie uitreik-aksie begin het, het nou meer as 12 600 pare skoene aan leerlinge in agt streke verskaf. Die projek het nou na ’n hoër rat oorgeskakel met vars doelwitte, nuwe borge en groeiende openbare vertroue. Dié winter fokus die span op die ||Kharas- en Oshanastreek met die doel om nog 5 000 pare skoene te versprei. Opvoeders het oor die jare waargeneem wanneer leerlinge basiese items, soos skoolskoene, ontvang, skoolbywoning en akademiese prestasie verbeter en leerlinge meer selfvertroue het.


Die projek se deursigtigheid het lof ontvang in ’n era waar talle liefdadigheidsinisiatiewe sukkel om openbare vertroue te behou. Alle skenkings word in die openbaar gepubliseer en borge word na oorhandigingsgeleenthede genooi. Finansiële verslae word met belanghebbendes gedeel en ’n nuutaangestelde ouditeursfirma hersien tans die boeke gratis. Tot dusver het die Padfondsadministrasie (RFA) en die SPKA-groep elk N$100 000 bygedra, maar die projek kort nog nagenoeg N$1,7 miljoen om sy winterdoelwit te bereik.


Gesament;ike poging - Ten spyte van die projek se vordering, toon data dat daar steeds na raming 70 000 kinders in landelike Namibië is wat nog elke dag kaalvoet skool toe loop. In ’n land waar ongelykheid dikwels begin met die toegang tot noodsaaklikhede, omhels die projek ’n eenvoudige en lewensveranderende konsep, ’n gesamentlike verantwoordelikheid om ’n kind se waardigheid te herstel deur iets so nederig soos ’n paar skoene.


aurelia@nmh-hub.com.na

Facebook