Nadat die sluise van die Nautedam buite Keetmanshoop die naweek oopgetrek is nadat dit 107% vol was en vir ’n skouspel gesorg het, is die sluise Sondag om 02:40 toegemaak toe die damvlak op 99,3% gestaan het. 

Volgens die jongste dambulletin van NamWater het die dam nóg invloei van 8,963 kubieke meter water gehad en het die damvlak gister op 106,3% gestaan. Die Neckartaldam loop steeds oor met sy vlak op 101,9% met invloei van 4,003 kubieke meter. Die Hardapdam het die meeste invloei van 13,753 kubieke meter gehad met sy damvlak gister op 62,1%. Ander damme wat invloei in die Suide gehad het, is die Oanobdam met sy vlak op 60,5% en die Bondelsdam op 7,5% wat die Suidedamme se totaal op 90,8% te staan bring. In die sentrale streek het die Swakoppoortdam invloei van 1,335 kubieke meter gehad met sy vlak op 82,0% en die Von Bachdam is nou 70,8% vol ná invloei van 0,548 kubieke meter.

Die reën duur voort met die Windhoekse weerkantoor wat weer ’n weerwaak uitgereik het met matige tot swaar donderbuie en reën wat plek-plek oor die sentrale noordelike, sentrale en suidoostelike streke, asook Otjozondjupa en Omaheke kan uitsak met moontlike kitsvloede wat kan voorkom. Elders in die binneland kan enkele tot geïsoleerde donderbuie en reën voorkom, behalwe in die verre Suidweste en Suide. 

Verskeie paaie het in die Suide verspoel en is onbegaanbaar. Die Paaieowerheid (RA) van Namibië het verskeie paaie in die ||Kharasstreek tydelik gesluit ná swaar reënval en oorstromings wat aansienlike skade veroorsaak het.  Volgens die RA is talle distriks- en hoofpaaie onveilig vir reis, met motoriste wat aangemoedig word om versigtig te wees en aangewese alternatiewe roetes te gebruik. Die RA het gesê dat die owerheid die toestand van paaie aktief monitor en evaluering en herstelwerk sal uitvoer sodra dit veilig is om dit te doen.

Die volgende reënsyfers is gisteroggend aangemeld: 74 mm op die plaas Swartputs, 60 km noordwes van Aroab; 70 mm op plase suid-suidwes van Uhlenhorst; 55 mm op die plaas Bergen, suidoos van Tsumeb; 44 mm op die plaas Matruh, 20 km noordwes van Aranos; 42 mm op die plaas Vaalpan, 50 km suidoos van Koës; 30 mm op Tsumeb; 26 mm op die plaas Langfontein, suidwes van Grünau; 25 mm 15 km suid van Omitara; 22 mm op Ariamsvlei; 18 mm op die plaas Dassiesfontein, 35 km wes van Mariental; 16 mm op die plaas Reitz, suidwes van Leonardville; 12 mm in Ludwigsdorf en 9 mm op die plaas Kweekwal, 45 km noord van Aroab.