GEMSBOK-UPINGTON: Ná dae van harde werk is die historiese treinbrug in Schröderstraat weer 'n netjiese en opvallende baken nadat AfriForum Upington, Sheriff Security Upington, Oranje Mica Upington en Walker Midas Upington saamgespan het om die brug op te knap en die omgewing veiliger te maak.
Die projek het tientalle vrywilligers, werkers en verwers byeengebring wat hul tyd en kundigheid ingesit het om die brug en omliggende gebied te herstel. Altesaam 70 liter padmerkverf is gebruik om die brug se kenmerkende strepe aan te bring – 35 liter geel en 35 liter rooi – wat nie net die voorkoms verbeter nie, maar ook 'n duursame afwerking bied wat die elemente kan weerstaan.
Die projek het verder behels dat die voetgangerdeurloop langs die brug met 'n trekker en padskraper skoongemaak is om opgehoopte grond en rommel te verwyder. Twee groot skips is ook gebruik om huis- houdelike afval en ander rommel wat oor 'n lang tydperk opgehoop het, weg te ry.
Volgens die projekspan sal hierdie skoonmaakwerk die veiligheid en toeganklikheid vir voetgangers aansienlik verbeter. Die treinbrug, wat in 1915 gebou is, is een van Upington se be- kendste historiese ba- kens. Ondanks sy ou- derdom speel dit steeds 'n belangrike rol in die spoorwegnetwerk en word dit weekliks deur treine gebruik as deel van Transnet se spoorvervoer.
Die brug is egter ook bekend vir sy beperkte hoogte van 3.3 meter, wat gereeld veroorsaak dat vragmotors daarin vasry. Hierdie ongelukke lei dikwels tot ernstige skade aan voertuie, verkeersontwrigting en hoë herstelkoste. Die projekspan meen die verbeterde sigbaarheid van die brug sal bydra om padgebruikers meer bewus van die hoogtebeperking te maak.
Volgens die projekorganiseerder, Werner Strauss, is die treinbrug die eiendom van Transnet. Hulle voer aan dat sekere amptenare en raadslede van die DKM tydens die projek probeer het om die werk te laat staak omdat dit die indruk sou kon skep dat die munisipaliteit nie sy infrastruktuur voldoende onderhou nie. Die munisipaliteit se weergawe van die gebeure was teen druktyd nie beskikbaar nie.
“Ondanks die uitdagings is die projek suksesvol voltooi en het die betrokkenes hul dank uitgespreek teenoor elke vrywilliger, werker, skenker en ondersteuner wat gehelp het om die opknappingsprojek te laat slaag. Die projek dien as voorbeeld van wat bereik kan word wanneer organi- sasies, besighede en gemeenskapslede saamwerk om openbare ruimtes te verbeter en Upington se geskiedenis vir toekomstige geslagte te bewaar, sê Werner Strauss distrik koordineerder van die Noord Kaap”
Jy kan elke Vrydag die skakel na jou gratis Gemsbok op WhatsApp kry!
Volg die skakel! https://whatsapp.com/channel/0029VbCfMcCLtOj9eXoohS29