“Afrikaans het nog altyd ‘n eie manier van doen, dink en bestaan gehad – geskep en gevorm in die monde van die mense wat dit praat … ”
– uit Afrikaans.com-veldtog,
Tien jaar gelede het Afrikaans gebuk gegaan onder vele negatiewe persepsies en is daar besluit om ‘n veldtog van stapel te stuur om Afrikaans se beeld af te stof en opnuut ’n passie vir Afrikaans onder sy sprekers te laat ontstaan. Die saadjie is gesaai, maar hy moes water kry en vertroetel word om te ontkiem en te groei. En dit is in hierdie gees dat ‘n klein groepie mense koppe bymekaargesit het, Afrikaans.com geskep is en die eerste van verskeie veldtogte geloods is.
Omdat ons geglo het en steeds glo dat Afrikaans aan almal wat dit praat en daarin leef, behoort, hetsy ter plaatse of elders in die wêreld, wou ons weet: “Hoe lyk jou Afrikaans?” En daamee saam: “Hoe klink en proe jou Afrikaans?” Daarom was dit dan ook die kern van daardie eerste veldtog – die viering van Afrikaans in al sy vorme, dialekte en manifestasies. Die boodskap was duidelik – dit was gestroop van bagasie en is geskep om die belange van die taal in al sy vorme voorop te stel. Ons wou hê dat Afrikaans onmisbaar word in die oë van diegene wat die taal liefhet.
’n Dekade later kan ons met trots sê: Afrikaans.com het ’n geloofwaardige en gerekende handelsmerk geword en is ons die bymekaarkomplek en die spreekbuis vir Afrikaans in al sy vorme en dialekte. Afrikaans.com is ’n platform wat die storie van Afrikaans en sy mense vertel – van toeka tot nou. Dit is ’n platform wat die beeld van Afrikaans uitdra en uitbou sodat die taal en kultuur kan voortleef – ook vir toekomstige generasies. By Afrikaans.com gaan dit oor diegene wat elke dag leef in Afrikaans, wat trots is op hul taal en kultuur, maar dis ook vir elkeen wat belangstel in, en meer wil leer oor die taal en sy sprekers. Daarom streef ons na inklusiwiteit, modern en relevant aangebied, met die hoofdoel om op ’n positiewe manier te beïnvloed, in te lig, te ondersteun, te onderrig en te inspireer. Ons wil hê dat die taal elke dag net dieper in die harte van diegene wat die taal gereeld gebruik, sal kruip. En vir ander wat dalk nie die taal so gereeld gebruik nie, wil ons aanspoor om met ander oë na die taal te kyk.
Op Afrikaans.com is daar iets vir elke smaak, van interessante in-diepte artikels, profiele, blogs en video’s, leerhulp vanaf voorskool tot matriek, tot resepte en leefstylbrokkies.
Omdat dit vir ons belangrik is dat Afrikaans op alle vlakke sal aanhou groei, bevorder ons graag organisasies en geleenthede wat die taal saam met ons vier.
Ons nooi jou uit: Blaai gerus deur die webtuiste, volg ons op sosiale media (Facebook, Instagram en TikTok), neem deel aan die gesprek, en raak saam met ons opgewonde oor die toekoms van die taal. “Dit maak nie saak of dit ’n rieldans in die stof van Namakwaland, ernstige letterkunde of hip-hop is nie. Vanaf die woonstelblokke van die Kaapse Vlakte, tot die luukse voorkamers van Dainfern. Vanaf die naaldskerp rotse van Kaap Agulhas, tot aan die ruie walle van die Limpopo. Op die minibustaxi’s in ons stede en in die ooptes van die Richtersveld. In elkeen van ons nege provinsies, praat, droom, dink en lewe mense in Afrikaans.” Kom nader … en kom skryf saam met Afrikaans.com aan die toekoms van ons pragtige taal.