’n Asemrowende skouspel van madeliefies, vygies en bolplante het die gewoonlik dorre Noord-Kaap in ’n kleurryke tapyt van pienk, pers, geel, oranje en wit omtower.
Voeg by dié natuurwonder ’n skouspelagtige plaasomgewing hoog op die plaas Gifberg, kompleet met kampering, draf- en staproetes, musiek en antieke rotskuns, en jy het die suksesresep vir die jaarlikse Namakwaland Blommefees wat beperk word tot 250 mense. Die Weskus, Sederberge en Namakwaland is wêreldbekend vir hul blommeprag hierdie tyd van die jaar wanneer van Namakwaland-madeliefies (Dimorphotheca sinuata), gousblomme, vygies (Livingstone se madeliefies), nemesias, lachenalias en babianas nie net vir ’n visuele fees vir die oog sorg nie, maar ook ’n welkome ekonomiese hupstoot vir plaaslike gemeenskappe is.
Die blomseisoen duur tot Oktober, met piekvertonings in Augustus en September, afhangende van die winterreën en vroeë lentetemperature. Blomme gaan ten volle oop in die laat oggendson en maak weer toe teen die aand, wat ’n daaglikse ritme van kleur en wonder skep. Network Media Hub (NMH) se Otis Daniels van Aitsa!-faam het ’n blommedraai by die fees gegooi, wat 18 jaar gelede deur Grant Ross begin is as ’n naweekavontuur van vier vriende wat Rooiberg naby Garies in 2006 uitgeklim het.
Een van die groep vriende het ’n jaar later gesterf en om hom te onthou, het die res na die berg teruggekeer. Wat as ’n herdenking aan hom begin het, het vinnig tot ’n jaarlikse byeenkoms gegroei. “Dit het net aanhou groei,” onthou Grant. “Eers 20, toe 50 en nou is ons 250 mense!”
Die kern van die fees bly egter dieselfde, ’n samekoms van eendersdenkende mense wat lief is vir die natuur, avontuur en samesyn. “Dis gewoonlik buitelugliefhebbers wat dit bywoon, maar jy hoef nie ’n avonturier te wees nie. Sommige kom vir die musiek, ander vir vrede en stilte, maar dit gaan alles daaroor om die natuur te geniet. “Dis ’n bewustelike besluit om die fees klein te hou,” sê Grant. “Dis meestal plaaslike inwoners, maar ons kry ook besoekers uit die buiteland. Besoekers word ook aangemoedig om iets te bring om te deel, of dit nou kennis vir ’n werkwinkel en ’n praatjie is, ’n optrede of net goeie energie is!”
Buiten vir staptogte in die natuur en die San-rotstekeninge en werkwinkels vir die pars van blomme, was dit ook weer tyd vir die Blomme Olimpiese Spele wat alles van toutrek tot handstaan tot ’n kruiwa-resies ingesluit het.
“Dit gaan nie oor wen nie, maar die vier van stories, die lawwigheid en die gees van samesyn!”