Gedeelde probleme verg gedeelde oplossings.

Dit is die mening van die Namibië Landbou-unie (NLU) en Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) wat Suid-Afrika besoek het om die dreigende kwessie van bek-en-klouseer (BKS) te takel met die buurland wie se BKS-uitbreking al hoe nader na die suidoostelike grens van Namibië kruip. Volgens die Suid-Afrikaanse landbouministerie is die totale aangemelde BKS-gevalle in die aangrensede Noord-Kaapprovinsie 39. Volgens ’n Namibiese veearts is die naaste BKS-geval in die Noord-Kaap in die Upington-distrik, slegs 120 km vanaf die Namibiese grens. 

Nóg ’n Namibiese veeartsenykenner het ook verlede week sy kommer oor die naderende gevaar aan die grens in ’n oproep met Republikein uitgespreek. Dr. Vimanuka Mutjavikua, senior klinikus en hoof van produksie by die dierekliniek en koördineerder van die kuddegesondheidsprogram vir finalejaar-veeartsenystudente aan die Universiteit van Namibië (Unam) se Skool vir Veterinêre Medisyne op die Neudamm-kampus oos van Windhoek, het gesê meer bewusmaking moet oor BKS gedoen word om die verspreiding oor die grens te voorkom. Hy het gemaan die uitbreking van BKS kan rampspoedig vir die Namibiese ekonomie wees, veral vir die landbousektor wat die grootste werkverskaffer is. Mutjavikua versoek veeartsenybeamptes, veral naby grense om waaksaam wees. 

Die afvaardiging van die NLU en LPO het in Pretoria twee belangrike geleenthede bygewoon: ’n Gesprek aangebied deur die Trust in Animals and Food Safety (TAFS) Forum en die Switserse ambassade, asook die Octavoscene BKS-simposium. Die TAFS-gesprek het verteenwoordigers van die openbare en privaat sektor in Suid-Afrika, insluitend tradisionele leiers, saam met afvaardigings uit Eswatini en Namibië byeengebring, volgens die weeklikse nuusbrief van die NLU. 

Die gesprek het gedraai om die verspreiding van BKS in Suid-Afrika en die gevolglike impak op sy buurlande, met ’n sterk fokus op die beheer, die gebruik van data om beplanning te lei en die verbetering van kommunikasie. “Die afgevaardigdes het tot die gevolgtrekking gekom dat suksesvolle streekbestuur van BKS afhang van sterker openbare-private vennootskappe, verbeterde datadeling binne en tussen lande en eerlike kommunikasie sonder politiek,” lui die nuusbrief.

Entstofbank - Nóg ’n fokuspunt is die stigting van ’n gesamentlike entstofbank binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en die moontlikheid van ’n buffersone met volledige inentings langs die grens tussen Namibië en Suid-Afrika, volgens die NLU.

“Deelnemers het saamgestem dat volgehoue streekdialoog en samewerking noodsaaklik sal wees om momentum te behou en siektebeheerpogings oor die streek heen te versterk.” Die BKS-simposium van Octavoscene het toonaangewende internasionale kundiges byeengebring wat lesse en vernuwing in BKS-beheer gedeel het. Volgens die NLU en LPO het hoogtepunte ingesluit die jongste inligting oor wêreldwye opsporing van die BKS-virus, Duitsland se vinnige en suksesvolle inperking van sy 2025-uitbreking, nuwe navorsing oor wanneer dit weer veilig is om die vleis te eet nadat die beeste aan BKS herstel het, asook Suid-Afrika se meer intense reaksieprogram. 

Die buurland het meer as agt miljoen beeste ingeënt as deel van sy breër siektebestuurspogings en dit is beklemtoon dat inenting met bioveiligheid, naspeurbaarheid, toesig en bewegingsbeheer gekombineer moet word. “Ons is op die regte pad in Namibië. Ons nasionale BKS-taakspan en -steunfonds het van die begin af skouer aan skouer met DVS [direktoraat van veeartsenydienste] en die regering gestaan, terwyl Suid-Afrika nou eers breër verteenwoordiging in sy reaksie inbou. Dit is ’n opregte pluimpie vir ons regering, ons landbou-unies en ons bedryf, gelei deur die bevoegde owerheid vir die bou en instandhouding van hierdie struktuur,” sê die NLU. “Om Namibië se gesondheidstatus van BKS-vry sonder inenting te beskerm, kom steeds neer op die grondbeginsels: Sterk voorkoming, wakker bewustheid, streng bioveiligheid op grense en plase en volgehoue steun vir die koördineringstrukture wat reeds in plek is.” 

Volgens die NLU is in Pretoria telkens bespreek dat produsente en amptenare maklik voorkomingvoos word. “Wanneer die bedreiging nie realiseer nie, is dit verleidelik om te laat slaplê juis wanneer ons dit nie kan bekostig nie.” Vir die NLU en LPO was die dialoog in Pretoria ’n herinnering dat goeie struktuur net so belangrik is soos goeie medisyne. “Die bemoedigende nuus is dat Namibië se struktuur goed op pad daarheen is. Ons moet dit net sterk hou. Kom ons bly waaksaam en hou ons nasionale kudde presies waar dit is: BKS-vry,” benadruk die NLU.

SA skenk entstof aan buurlande - Intussen het Suid-Afrika 150 000 dosisse entstof teen BKS aan Namibië, Lesotho en Eswatini verskaf om die verspreiding van die siekte oor grense te help stuit. 

Elke land het 50 000 dosisse ontvang, het Suid-Afrikaanse minister van landbou, Willie Aucamp, verlede week gesê. Hy het gesê die “doel is dat die buurlande entstof het as uitbrekings daar voorkom en dat inentings aan hul kant van die buffergebiede langs die Suid-Afrikaanse grens gedoen kan word. “Die siekte kyk nie waar ’n nasionale grens is nie. Vee beweeg vrylik oor grense,” het Aucamp gesê. Volgens hom sal Suid-Afrika nie die stryd teen BKS wen as buurlande nie bygestaan word nie.