Die bekende Namibiese egpaar, dr. Rudie en Marlice van Vuuren, is ook vir ’n Silwerskermfees-toekenning benoem.
Die Van Vuurens is vir beste aanbieders vir ’n dokumentêre program benoem. Hulle is die geliefde aanbieders van die gewilde natuurprogram, Groen Namibië, waarvan ses seisoene al op kykNET uitgesaai is.
Hulle gaan meeding met bekendes soos Rian van Heerden, aanbieder van Schuster en Brakpan Chronicles, Frank Opperman en sy seun Frankie Opperman in Frank en Govan Whittles in Govan ontbloot.
“Dis ’n verrassing! Ons het nie eers geweet daar is so ’n toekenning nie,” het Rudie gister aan Republikein gesê.
Vir dié mediese dokter, medestigter van die N/a’an ku sê-stigting en kranige sportman, is 2026 ’n groot jaar. Rudie is nie net vir hierdie toekenning benoem nie, maar as president van Krieket Namibië is hy die eerste Namibiër wat as komiteelid van assosiaatlidlande van die Internasionale Krieketraad (IKR) tydens die IKR se onlangse jaarlikse Konferensie in Edinburg in Skotland verkies is.
In 2003 het Rudie die eerste persoon in die geskiedenis geword wat in beide ’n Krieketwêreldbeker en ’n Rugbywêreldbeker vir sy land gespeel het, ’n Guinness-wêreldrekord wat vandag nog staan.
Rudie en Marlice wy vir dekades lank hul lewens aan wildbewaring, navorsing, onderwys, gesondheid en die bewaring van die San-kultuur met Marlice wat vlot San praat.
In Groen Namibië deel hulle Namibië se buitengewone natuurerfenis met gehore oraloor die wêreld. Hierdie nominasie is ’n wonderlike erkenning van hul passie vir storievertelling en hul onwrikbare toewyding aan omgewingsbewaring.
Hulle is nie die enigste Namibiërs wat vanjaar by die Silwerskermfees gaan wees nie.
Joalette de Villiers van Swakopmund is as die beste aanbieder in ’n leefstylprogram, Op pad met my potjie, vir die Silwerskerm-toekennings vir film en televisie benoem.
Die wenners word op Saterdag 22 Augustus by die glansryke afsluiting van die Silwerskermfees in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangekondig.
Die toekenningsgeleentheid word op Sondag 23 Augustus om 19:00 op kykNET uitgesaai.
– francoise@nmh.com.na