ǁKhara hais skud sy vere reg vir die Upington Landbou-Ekspo wat vanjaar van 28 tot 30 Mei plaasvind.
Die skou, wat vir die eerste keer in 1962 aangebied is, beloof om propvol vermaak te wees en spog ook met ’n reeks splinternuwe aktiwiteite. Verlede jaar het meer as 12 500 mense die geleentheid besoek, en daar word verwag dat dié getal vanjaar oortref sal word, aangesien kaartjiepryse die afgelope vier jaar onveranderd gebly het - ook vanjaar.
Vir die eerste keer gaan ’n MX-wedren tydens die ekspo aangebied word. “Dit is iets splinternuut. Ons het ’n groot klub op die dorp en die veldfietsbaan op die skougronde word opgeknap sodat beginners sowel as professionele motorfiets-entoesiaste in verskillende kategorieë, van klein tot groot, kan deelneem. Ons het reeds 35 inskrywings ontvang en daar is lekker pryse om te wen,” het Henco Burger, voorsitter van die reëlingskomitee, gesê.
Arabierperde wys ook hul staal tydens die Noord-Kaap Arabierperd-kampioenskappe voor die hoofpawiljoen.
Iets vir almal - ’n Kunsmark in die Karakoelsaal is nóg ’n nuwe toevoeging tot die ekspo. “Daar is baie stalletjies teen ’n billike prys te huur en ons nooi almal om hul kreatiwiteit en produkte ten toon te stel. Ons wil plaaslike entrepreneurs, die tannies wat hekel en brei en weet hoe om lekker pannekoek te maak, die geleentheid gee om vir almal te wys waartoe hulle in staat is,” het Burger gesê.
Die skou het sy ontstaan te danke aan ’n groep boere wat jare gelede besluit het om ’n platform te skep waar hulle hul produkte kon vertoon en sosiaal verkeer. “Oor die jare het dit meer gekommersialiseer en die ekspo bring nou ’n enorme kontantinspuiting vir die dorp, omliggende gebiede en die streek as geheel.
“Daar is nou ’n feestelike atmosfeer saam met die tradisionele aspekte van die ekspo. Dit is ’n samekoms vir boere en hulle tref deur die jaar voorbereidings. Uitstallers bring nuwe en innoverende boerdery-idees, implemente en produkte. Daar is ook nege motorvoertuighandelaars wat die nuutste en beste op die mark vertoon. Verder het ons 58 tradisionele eetgoedstalletjies wat die beste gebak en proesels uit die omgewing aanbied,” het Burger gesê.
Wie is die beste? - ’n Lamslagkompetisie, ’n Brandbek-kompetisie en die Dorperland Dorperklub-kuddekompetisie vorm ook deel van die skou.
Die Brandbek-kompetisie het verlede jaar sy buiging gemaak nadat organiseerders maniere gesoek het om nuwe en prettige elemente by die skou te voeg. “Dit was ’n reusesukses. Ons akkommodeer net 10 deelnemers en daar is nog plek vir drie. Die huidige kampioen, Ivan Liebenberg, gaan sy titel kom verdedig,” het die organiseerder van dié kompetisie, Benitha van der Walt, gesê.
“Met die kompetisie wil ons bepaal wie die warmste kos kan eet. Jou smaakknoppies word behoorlik getoets. Ons kook verskillende disse en met elke skep raak dit warmer. Inskrywings sluit op 25 Mei en die wenners gaan met groot pryse wegstap,” het Van der Walt verduidelik.
Boere het tot 15 Mei gehad om vir die Dorperland Dorperklub-kuddekompetisie in te skryf en die wenners sal op 29 Mei by die ekspo aangekondig word.
Boomplaats/Koras Abattoir bied vanjaar ook ’n lamslagkompetisie onder die vaandel van die ekspo aan. “Boere wat vir die kompetisie inskryf, word outomaties vir die Nasionale Karkaskompetisie ingeskryf. Die slagwerk gaan by die slagpale gedoen word en die wenkarkasse word op 30 Mei tydens die ekspo aangekondig,” het Ria Ludick verduidelik.
Deelname het reeds op 12 Mei gesluit. Die inlewering is op 27 Mei ná 14:00 en die slagdatum is die volgende dag.
“Die kompetisie het ongeveer vyf jaar gelede deel van die ekspo geword om nuwe energie in die lewendehawe-afdeling van die geleentheid te bring. Ons het reeds sowat 300 inskrywings ontvang en daar gaan beslis ook ’n paar Namibiërs in aksie wees,” het Ludick gesê. Die verdedigende lamslagkampioen is Bertus Steenkamp.
Op 27 Mei bied Desert Beef’n boeredag aan. Benewens interessante sprekers, sal die Superos- en Slagos-inskrywings ook geslag word. “Ons het 180 inskrywings ontvang en die slagtery sal oor twee dae plaasvind. Die wenners word by die ekspo aangekondig. Mense kom van ver vir die geleentheid en dit bring boere, families en vreemdelinge bymekaar,” het Ludick gesê.
Top vermaak - Die kunstenaars Ryk Kleinhans, Henru & Schwabie, Ivan Roux, Wentzel, Berenice West en Blixem Straat gaan sorg vir opskop-vermaak.
Plaaslike musikante is ook genooi om hul talente op die Busk @ Plaaswerf-verhoog te kom wys. Skougangers sal hier ook klein krokodille kan besigtig en optel.
Mej. Upington Skoukoningin 2026 sal Donderdagaand gekroon word. Denika Muller is die Mej Upington Skoukoningin 2025 . “Dit is baie meer as net ’n skoonheidskompetisie. Deesdae gaan dit meer oor vrouebemagtiging en die 10 finaliste is reeds vir ’n paar maande met gemeenskapsprojekte besig. Die organiseerder moedig deelnemers aan om ander vroue te inspireer en ’n betekenisvolle verskil in ander se lewens te maak,” het Burger gesê.
Daar gaan ook lekker gelag, gedans en gedink word tydens Francois Boyce se geleentheid, “Die Wildtuin & Ek #hoezitsamelewing”, op 26 Mei by die skougronde.
’n Skoleproduksie met verskeie items en die kroning van Mej. Junior Ekspo is deel van Donderdag (29 Mei) se aktiwiteite. Daar is ook die Uptown Funpark waar die jongspan hulle kan speel.
“Ons het die gemeenskap nodig om die skougronde in stand te hou en te bewaar. Kom maak gerus ’n draai. Enigiemand wat betrokke wil raak by die organisering van die Expo is meer as welkom om dit te doen,” het Burger afgesluit.