Die omgewings- en maatskaplike impakstudie vir die voorgestelde ontwikkeling van die Venus-olieveld in Blok 2913B aflandig van suidelike Namibiese kus is aan die gang en die geleentheid om openbare insette in Windhoek te lewer, sal volgende beskikbaar wees.


SLR Environmental Consulting hanteer die proses om die omgewingsklaring namens TotalEnergies te bekom en het openbare vergaderings in die hoofstad vir vandag by die Frans-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) en vir die UN Plaza in Katutura môre geskeduleer. Albei vergaderings begin om 13:00 en die vergadering in die middestad sal om 17:30 eindig, terwyl die Katutura-vergadering tot 19:00 sal duur.


SLR het ’n konsep-omvangverslag saamgestel wat beskikbaar is vir openbare oorweging en kommentaar vanaf 2 April tot 13 Mei 2025. Alle belanghebbendes word aangemoedig om teen nie later nie as 13 Mei 2025 ook die nietegniese opsomming te hersien en kommentaar aan Urban Dynamics/SLR te verskaf.


Verdere geleenthede om openbare insette te lewer, word op 28 April op Swakopmund en Hentiesbaai gehou, terwyl vergaderings op Walvisbaai op 29 en 30 April sal plaasvind. Nog ? geleentheid word op 6 Mei aanlyn aangebied, terwyl vorige vergadaerings reeds op Keetmanshoop, Bethanie, Lüderitz en Oranjemund gehou is.





40 BOORGATE OP SEEBODEM


TotalEnergies EP Namibia B.V. beplan om saam met sy vennote Impact Oil and Gas, Namcor en Qatar Energy tot 40 boorgate op die seebodem te boor. Hulle wil olie daaruit ontgin en na ? drywende produksie-, bergings- en aflaaivaartuig (FPSO) pomp wat by die Venusveld vasgemeer is. Bykomende gas sal na die boorgate teruggepomp word en die olie sal volgens die plan na tenkwaens oorgeplaas word om na die kopers vervoer te word.


Die ontwikkeling sal ná verwagting vyf jaar neem, ná ? finale beleggingsbesluit, voor olieprodusie sou begin. Daarna word verwag dat die olie tot 20 jaar lank sal vloei. Geen geriewe op land word met hierdie projek geassosieer nie, volgens die inligting wat beskikbaar is.


Vrae wat reeds drie weke gelede na Namibië se petroleumkommissaris, Maggy Shino, en die nuut uitgebreide ministerie van nywerheidsontwikkeling, myne, energie gestuur was, bly onbewantwoord. Dus is daar nog geen duidelikheid oor wat hierdie ontwikkeling sou beteken vir die konstruksie van ? ondersese pyplyn vanaf die olievonds tot aan die kus van Namibië nie en of ? pyplyn selfs gebou sal word, of nie. Die vrae het ook duidelikheid gesoek oor hoe die regering akkurate produksiesyfers sou verseker aangesien alles in die diepsee sou plaasvind. Die impak op plaaslike waardetoevoer, werkskepping en plaaslike inhoudsdeelname is dus ook steeds onduidelik, terwyl ook geen antwoorde ontvang is oor hoe hierdie ontwikkeling ? impak sou hê op Namibië se langtermynplanne vir ? plaaslike oliebedryf nie. Heel moontlik sou TotalEnergies se benadering wel vinniger die eerste opbrengs vanaf Namibië se aflandinge ontdekkings van olie sou kan lewer.

Facebook